Noodsaaklikhede vir geestelike groei.

 

Goeie more ,

Die doel van ons bestaan is 'n fyn en sterk wisselwerking tussen God, myself en my medemens. Ons geestelike lewens help ons om te verstaan en te weet hoe ons hierdie balans kan versterk. Daarom praat baie mense van ‘n “geestelike oefenprogram” wat hulle help om te werk aan hulle verhouding met God, hulself en die mense rondom hulle. ‘n Oefenprogram vir geestelike groei het sekere noodsaaklikhede. 

Die beginpunt is sekerlik om God beter te leer ken en meer te weet van Christus Jesus. Daarom is dit noodsaaklik om daagliks Bybel te lees. God se boodskap van liefde en genade vir jou is opgeneem in Sy Woord. Dit is ook in Sy woorde waar jy Sy duidelike leiding vir jou lewe sal vind. 

Tweedens is dit noodsaaklik om saam ander gelowiges gereeld byeen te kom (Hebreërs 10:25). Daarom is dit belangrik om die eredienste van God by te woon – vir onderrig, lofprysing, gemeenskap, sakramente, gebed en mekaar geestelik op te bou (Handelinge 2:42-47). Dit is fundamenteel om deel te wees en deel te neem aan die liggaam van Christus.

Verder is dit noodsaaklik om betrokke te raak by Sy liggaam. Raak betrokke by ‘n kleingroep, bedieningsgroep of aksies van die gemeente. Dit is in die werk wat ons vir God doen, saam mede gelowiges, waar ons groei in ons geloof, verhouding en kennis van Hom. Bid daarom en vra God waar jy moet “in klim”.

Daaglikse gebed is die vierde noodsaaklikheid vir geestelike groei. Bid as jouself en gesels met God – daar is nie regte en verkeerde woorde nie. Dank Hom vir jou redding. Bid vir mense in nood. Bid vir jou lewe en jou geliefdes. Bid dat die Heilige Gees jou daagliks sal vul en versterk. Ontmoet God en word stil – met oop of toe oë; sittend, knielend of staande – waar jy ookal is.

Aangeheg is die Nuusbrief vir Junie, lekker lees.

Gaan leef, werk en groei in jou  geestelike lewe.

Andrè

E-pos: andre@sagemeente.com

Selfoon nommer:078 4102 9307
 

Vorige Briewe 

Die prys van woorde
God het nie net gepraat oor onvoorwaardelike liefde, vergifnis en verlossing van die wêreld nie, Hy het dit tot uitdrukking laat kom deur Sy Seun Jesus Christus. Laat toe dat Hy gehoor word in elkeen van jou woorde. More ...
Die Woord as Waarheid
Volgens Calvyn gee die Skrif ons 'n reddende kennis van God, maar slegs wanneer die sekerheid daarvan "gegrond is op die innerlike oortuiging van die Heilige Gees." More ...
Jesus se Woorde
Jesus se eerste woorde van Sy opstanding was net buite die leë graf. Ons lees daarvan in Johannes 20 waar Maria Magdalena na Hom gaan soek het. Sy was in trane, omdat Sy Hom nie kon kry nie, toe Jesus met haar praat. More ...
Die kleur van vergifnis
God is die bron van die volkome Lig wat ons lewe rig. Ons lewens-waarde lê in Hom wat deur ons skyn na die wêreld. Die wêreld word gevul met ‘n reënboog van kleure omdat God se verlossende Lig elkeen op ‘n unieke manier bereik en bevry. More ...