Gebed met die hande onder die kraan

  
Ek hoop dit gaan sommer goed en gesond by julle. Ek en Tanya is nog besig om die balans te vind tussen werk, huis-skool, gesond wees en speel sonder om te veel te bekommer.

Elkeen van ons is verstom oor die tyd waarin ons is. Genadiglik is God se Hand van Lewe na ons elkeen gerig. Kom ons bid vanoggend saam tot ons Here.
 
Die water spoel oor my hande
maar die woorde steek vas in my keel.
Hoe bid ‘n mens in hierdie tyd?
Ons het nog nooit so iets beleef nie.
Heer, wees ons genadig.
 
Ek voel die seep tussen my vingers,
vryf my hande bo, onder, allekante.
Skoonwas.
Dis mos u metafoor, Here.
Maar hoe moet ons dit verstaan in so ‘n tyd?
 
Wat kan ek bid met my hande onder die kraan?
Ek dink aan die kwesbares,
en wonder of ek een is.
Heer, wees ons genadig.
 
U roep ons om te volg.
U stel die voorbeeld van deernis en diens.
Maar hoe gee ons op ‘n afstand om?
Of lê die omgee juis in afsydig bly?
Is hierdie ritueel van water en seep
ons nuwe sakrament?
Heer, wees ons genadig.
 
Om ons tuimel die markte.
Besighede ly skipbreuk
en soos drenkelinge spoel mense uit
op strande van wanhoop.
So iets het ons nog nooit beleef nie.
 
Ek was my hande in gebed:
Heer, wees ons genadig.

                                            Neels Jackson
 
Kontak gerus vir my, of Ena indien ons jou kan bystaan in hierdie uitdagende tyd. Baie seën en sterkte.

andre@sagemeente.com of 078 4102 9307

Kontak die kerkkantoor by
noordwyk@sagemeente.com of ena@sagemeente.com

Vorige Briewe 

Die prys van woorde
God het nie net gepraat oor onvoorwaardelike liefde, vergifnis en verlossing van die wêreld nie, Hy het dit tot uitdrukking laat kom deur Sy Seun Jesus Christus. Laat toe dat Hy gehoor word in elkeen van jou woorde. More ...
Die Woord as Waarheid
Volgens Calvyn gee die Skrif ons 'n reddende kennis van God, maar slegs wanneer die sekerheid daarvan "gegrond is op die innerlike oortuiging van die Heilige Gees." More ...
Jesus se Woorde
Jesus se eerste woorde van Sy opstanding was net buite die leë graf. Ons lees daarvan in Johannes 20 waar Maria Magdalena na Hom gaan soek het. Sy was in trane, omdat Sy Hom nie kon kry nie, toe Jesus met haar praat. More ...
Die kleur van vergifnis
God is die bron van die volkome Lig wat ons lewe rig. Ons lewens-waarde lê in Hom wat deur ons skyn na die wêreld. Die wêreld word gevul met ‘n reënboog van kleure omdat God se verlossende Lig elkeen op ‘n unieke manier bereik en bevry. More ...