Jesus se kruisverhaal

 

Jesus se kruisverhaal getuig – geloofsbelydenis is nie maklik nie. Petrus het buite in die binnehof gesit toe 'n diensmeisie na hom toe kom en sê: “Jy was ook saam met Jesus die Galileër.” Petrus se antwoord is sekerlik die grootste voorbeeld van hoe moeilik dit is om jou geloofsbelydenis te leef. Sy antwoord lei tot ‘n drievoudige verloëning van sy Here.
 
Om in die openbaar ‘n belydenis te maak is meeste kere ‘n uitdaging.  Dink maar aan jou eerste liefdes-belydenis…die angs, spanning, hitte- en sweet golwe wat oor jou gespoel het om darem net die woorde te uiter “ek hou van jou”. Dink aan die eerste keer toe jy jou stem moes uiter teen jou baas of ‘line manager’…die spanning en onsekerheid oor wat die implikasies daarvan moontlik gaan wees. Om vandag, in die openbaar, jou geloof te bely is ook nie altyd so maklik nie.
 
Daarom is dit opwindend en ‘n voorreg as ons gekatkiseerde jongmense voor die gemeente kom staan om in die openbaar hulle persoonlike oortuiging en geloof in ons Drie-enige God te bely!   Gaan bely ook self jou geloof vandag, more, Sondag en volgende week aan familie, mede gelowiges, ongelowiges en veral aan hulle wat vra: Ken jy vir God?
 
Ons dank U, Barmhartige God en Vader, dat U u werk voortsit en gelowiges
roep om belydenis te doen van hulle geloof in U.

Ons bid dat U hulle deur u Heilige Gees sterker sal bind aan Jesus Christus en
vaster sal bind aan sy kerk.

Ons bid dat U hulle sal staande hou en laat groei in die geloof en kennis van
ons Here Jesus Christus; dat U hulle voortdurend sal lei tot 'n lewe van diens
en gehoorsaamheid aan U, tot kragtige getuies in die wêreld, en dat U hulle
sal bewaar van versoeking. Gee dat hulle in die laaste dag onder die skare
van uitverkorenes in oorwinning voor u troon sal verskyn.

Ons vra dit in die Naam van ons Here Jesus Christus.
Here, ek bid dit vandag vir elkeen wat in U glo.  Amen

Geseënde lydensweek.
Andrè


                                                           

Vorige Briewe 

Die prys van woorde
God het nie net gepraat oor onvoorwaardelike liefde, vergifnis en verlossing van die wêreld nie, Hy het dit tot uitdrukking laat kom deur Sy Seun Jesus Christus. Laat toe dat Hy gehoor word in elkeen van jou woorde. More ...
Die Woord as Waarheid
Volgens Calvyn gee die Skrif ons 'n reddende kennis van God, maar slegs wanneer die sekerheid daarvan "gegrond is op die innerlike oortuiging van die Heilige Gees." More ...
Jesus se Woorde
Jesus se eerste woorde van Sy opstanding was net buite die leë graf. Ons lees daarvan in Johannes 20 waar Maria Magdalena na Hom gaan soek het. Sy was in trane, omdat Sy Hom nie kon kry nie, toe Jesus met haar praat. More ...
Die kleur van vergifnis
God is die bron van die volkome Lig wat ons lewe rig. Ons lewens-waarde lê in Hom wat deur ons skyn na die wêreld. Die wêreld word gevul met ‘n reënboog van kleure omdat God se verlossende Lig elkeen op ‘n unieke manier bereik en bevry. More ...