Kits-geloof?


 Ons leef in ’n tyd waar almal na kitsoplossings soek. Kitskos, kitssportbyeenkomste, kortpaaie. Ongelukkig werk nie alles met kitsresepte nie. Een gesprek gaan nie noodwendig my huweliksprobleem van 15 jaar oplos nie. Een dag seminaar kan nie werklik my tekortkominge laat verdwyn en my volkome maak nie. Een goeie daad by die huis of die werk, vervang nie alles wat voorheen afgespeel het nie.
 
Die realiteit is dat min dinge met werklike waarde oornag ontwikkel. Daar is geen kortpad na rypheid nie. Dit neem ‘n boom jare om sy eerste vrugte te dra. Dit neem ‘n volle seisoen vir ‘n boom om sappige vrugte te gee. Dit neem ‘n leeftyd vir dieselfde boom om ‘n baken van herinneringe te word. Daar is geen kortpad na volwassenheid nie. Geen mens word volwasse gebore nie. Dit neem ’n hele klomp jare om volwassenheid te bereik.
 
So is dit ook met geloof. Daar is nie kortpaaie na ‘n lewende verhouding  met God nie. Filippense 1: 6 verduidelik: Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. (Kyk ook Ef 4: 13.) Dus geloofsvolwassenheid neem tyd, oorgawe en deelname om ewigdurende waarde te dra.
Miskien is jy nog nie by die bestemming waar jy wou wees nie. Tog is jy nie waar jy was nie. God is nog lank nie klaar met jou op die pad wat na jou heil lei nie. Hou moed en hou vas aan Sy Vaderhand!
                                                                         (gedeeltelike erkenning aan Ds Buddie Dupper)
Seënwense,
Andrè

Vorige Briewe 

Die prys van woorde
God het nie net gepraat oor onvoorwaardelike liefde, vergifnis en verlossing van die wêreld nie, Hy het dit tot uitdrukking laat kom deur Sy Seun Jesus Christus. Laat toe dat Hy gehoor word in elkeen van jou woorde. More ...
Die Woord as Waarheid
Volgens Calvyn gee die Skrif ons 'n reddende kennis van God, maar slegs wanneer die sekerheid daarvan "gegrond is op die innerlike oortuiging van die Heilige Gees." More ...
Jesus se Woorde
Jesus se eerste woorde van Sy opstanding was net buite die leë graf. Ons lees daarvan in Johannes 20 waar Maria Magdalena na Hom gaan soek het. Sy was in trane, omdat Sy Hom nie kon kry nie, toe Jesus met haar praat. More ...
Die kleur van vergifnis
God is die bron van die volkome Lig wat ons lewe rig. Ons lewens-waarde lê in Hom wat deur ons skyn na die wêreld. Die wêreld word gevul met ‘n reënboog van kleure omdat God se verlossende Lig elkeen op ‘n unieke manier bereik en bevry. More ...