Die Onse Vader verduidelik


 
Wat beteken die vyfde bede – Vergeef ons ons oortredinge, soos ons ook die vergewe wat teen ons oortree? (Heidelbergse Kategismes vraag & antwoord 126)

Elkeen van ons is sondig, het sonde en verdien straf. Jesus leer ons om ons eie onvermoë te besef en te aanvaar dat alles genade van God is. Ons kan niks doen om redding te verdien nie.Daar is net Een na wie ons kan vlug – alleen God is in staat om ons sonde te vergeef; dit maak nie saak hoe groot my skuld is nie. Die wonder – God het ons reeds volkome vergeef in Jesus Christus.

Die laaste deel van hierdie bede roep ons tot selfondersoek. Hoe leef ons in die aangesig van God se genade en vergifnis? God se skuldvergifnis wek dankbaarheid en die behoefte in ons om die mense naby ons ook te vergewe. God se genade gee aan ons die geleentheid om ook die wat teen ons oortree te vergewe. Ons dankbaarheid vir God se Liefde wek in ons ‘n ernstige bereidheid en voorneme om ons naaste te vergewe en in vrede te lewe. God se vergifnis en vrede na ons, vloei deur ons sodat ander ook daarin kan deel.
…deur die genade van God is ek wat ek is. Sy genade aan my was nie tevergeefs nie…
(1Kor 15:10)                                                    (gedeeltelike erkenning Ds H Aucamp)
 
Wat beteken die sesde bede – En laat ons nie in die versoeking kom nie, maar verlos ons van die bose? (HK v&a 127)
Die Kategismes leer: ons bid hierdie, omdat ons in onsself swak is en nie staande kan bly nie. Ons is broos en verganklik en uitgelewer aan die magte wat sterker as ons is. Die duiwel het een doel voor oë – en dit is om ons saam met hom in die verderf in te neem. Daarom val hy ons swakhede aan – vir sommiges is dit geld, ander is dit sondes van die vlees, en soms is dit innerlike stryde soos jaloesie, begering en so meer. Juis daarom moet ons innig verbonde aan Jesus Christus lewe – sonder Hom kan ons niks doen nie (Joh 15:5). Daarom moet ons elke dag bid: Bewaar ons van die Bose! Want as ons bid staan ons nie meer alleen nie en stry ons nie meer alleen nie! Jesus, die Oorwinnaar, stry vir en saam met ons!
                                                                           (gedeeltelike erkenning Ds J H Breytenbach)
Seënwense,
Andrè

                                                           

Vorige Briewe 

Die prys van woorde
God het nie net gepraat oor onvoorwaardelike liefde, vergifnis en verlossing van die wêreld nie, Hy het dit tot uitdrukking laat kom deur Sy Seun Jesus Christus. Laat toe dat Hy gehoor word in elkeen van jou woorde. More ...
Die Woord as Waarheid
Volgens Calvyn gee die Skrif ons 'n reddende kennis van God, maar slegs wanneer die sekerheid daarvan "gegrond is op die innerlike oortuiging van die Heilige Gees." More ...
Jesus se Woorde
Jesus se eerste woorde van Sy opstanding was net buite die leë graf. Ons lees daarvan in Johannes 20 waar Maria Magdalena na Hom gaan soek het. Sy was in trane, omdat Sy Hom nie kon kry nie, toe Jesus met haar praat. More ...
Die kleur van vergifnis
God is die bron van die volkome Lig wat ons lewe rig. Ons lewens-waarde lê in Hom wat deur ons skyn na die wêreld. Die wêreld word gevul met ‘n reënboog van kleure omdat God se verlossende Lig elkeen op ‘n unieke manier bereik en bevry. More ...