Wat is 'n selgroep?

DIE HOOFDOEL:

Om as liefdesgemeenskap die onselfsugtige en onvoorwaardelike liefde van God in die samelewing uit te leef sodat ander Hom ook as Vader sal leer ken.

Die manier waarop dit bereik word

 Dit is noodsaaklik dat die onderlinge liefdesgemeenskap van gelowiges in die kleingroep beoefen en ervaar word. In die praktyk beteken dit:
 
Ø      ‘n lewende verhouding met die Here: uit dankbaarheid moet daaglikse gehoorsaamheid aan God ‘n lewenswyse word; tydens die byeenkomste word die teenwoordigheid van Christus in geloof ervaar en word Hy as Koning in sang en gebed aanbid en geprys.
 
Ø      ‘n omvattende verhouding met medegelowiges: gemeenskap van die gelowiges is lewensgemeenskap - mense is betrokke in mekaar se lewens; dit beteken om soos ‘n familie te leef, om vriende te wees; mekaar aan te moedig en op te bou; vir mekaar te bid en mekaar te ondersteun. Die byeenkomste is hulpmiddele om hierdie groep tot ‘n familie saam te bind.
 
Ø      ‘n dienende verhouding met mense buite die geloofsgemeenskap: die liefde van Jesus word doelbewus en onvoorwaardelik na almal wat ons pad kruis uitgedra; mense word na Christus gelei en word ingeskakel by die liefdesgemeenskap; hulle word gehelp en begelei om ook as dissipels van Christus te lewe.
 
Ø      Die selgemeente leef soos ‘n werklike familie:
·         Daar word doelbewus liefdesbande gebou tussen die persone wat inskakel.
·         Onderlinge ondersteuning en praktiese hulp word op allerlei maniere gegee.
·         Die liefdesbande word versterk deur gereelde byeenkomste wat die groep self reël. Die normale byeenkomste is ‘n weeklikse gesinsbyeenkoms, ‘n gebedsbyeenkoms vir die wat kan inskakel sowel as sosiale byeenkomste (soos saam eet of ‘n naweekkamp).
 
Ø      Die selgemeente leef as deel van die groter gemeente:
·         Die gelowiges is nie slegs deel van ‘n geestelike huisgesin nie, maar ook van ‘n groter familie en ‘n geestelike volk.
·         Die uiteindelike mikpunt is dat elke gelowige in die gemeente sal besef dat hy/sy deel behoort te vorm van ‘n liefdesgemeenskap waarin lewensgemeenskap beoefen word.
·         Die gemeente maak voorsiening vir gelowiges wat inskakel by die selgemeente-struktuur sowel as die wat nog nie ingeskakel is nie.

Wat van elke persoon verwag word:

Ø      ‘n Lewe van liefdevolle diens aan die Here Jesus Christus; totale beskikbaarheid aan Hom vir 24 uur elke dag.
Ø      ‘n Verbintenis van toewyding aan die geestelike huisgesin; Dit beteken ‘n skriftelike verbintenis aan die groep wat uitgeleef word deur meelewing met, en onderwerping aan die groep;
Ø      Om jouself te gee deur
·         Dààr te wees vir mekaar
·         Van jou behoeftes en vreugdes aan die liefdesgemeenskap mee te deel
·         Te sorg vir die behoeftes van die ander en
·         Uit te reik na mense wat Christus nie ken nie sowel as mense in fisiese nood.
Ø      Die ontwikkeling van ‘n persoonlike bediening met die gawes wat die Gees aan jou gegee het.
Ø      Inskakeling en meelewing met die groter gemeente en dien kerk in breër verband.

Wat ‘n selgemeente nie is nie:

Ø      ‘n Kliek: ‘n afgeslote groepie wat nie God se visie verstaan en nie ander by hulle inskakel nie.
Ø      ‘n Homogene groep: ‘n groepie eendersdenkendes en/of ‘n belangegroep wat mekaar as groep uitgekies het en op hulle eie behoeftes ingestel is.
Ø      ‘n Omgeegroep: ‘n groep wat na binne lewe en slegs vir mekaar omgee.
Ø      ‘n Terapeutiese groep: waar daar hoofsaaklik op probleme gekonsentreer word.
Ø      ‘n Studie- of kennisgroep: ‘n groep wat die klem laat val op Bybel- en geloofskennis – dit laat ‘n jong Christen ontuis voel omdat hy/sy nie so baie weet nie.
Ø      ‘n Huiskerk: ‘n outonome groep wat sonder die res van die liggaam van Christus funksioneer.
Ø      ‘n Gewone kleingroep: ‘n hulpmiddel vir die gemeentebediening waar die klem op byeenkomste lê.