Dankie vóór alles reg is


Teks: Filippense 4:6
6 Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. 7 En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in •Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak..

Ons sê maklik: “Ek sal dankbaar wees…” As die uitslae goed is.... As die probleem opgelos is.... As dinge by die werk rustiger raak....As die kinders regkom..... As ons net eers deur hierdie seisoen is.

Maar Paulus plaas dankbaarheid op ’n vreemde plek: tussen bekommernis en gebed.
“...maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend.” – Filippense 4:6, AFR20, verkorte woordelikse aanhaling

Vir Paulus beteken dankbaarheid dus nie: ek sê “dankie“ dat alles goed gaan nie. Dit vra ook nie dat ons pyn, verlies of onsekerheid moet ontken nie. Dit beteken eerder dat ek, selfs terwyl ek vra en worstel, terwyl ek swoeg en sweet, sal onthou – met Wie ek praat.

 Dit is juis waar dankbaarheid begin: nie wanneer my omstandighede verander, of die situasie beter word nie; dit begin wanneer ek anders na dieselfde situasie kyk.

Ek en jy kan vandag eerlik sê: “Here, hierdie maak my bekommerd...” én steeds byvoeg: “Maar dankie dat ek dit nie alleen hoef te dra nie.”

Daarom sê Paulus, is die gevolg of resultaat nie noodwendig onmiddellike antwoorde nie, maar God se vrede wat oor ons harte en gedagtes waak.

 In hierdie week: Wanneer iets jou bekommer, probeer om saam met jou gebed en versoek, ook één rede vir dankbaarheid voor God te noem.

 Gebed: Here, ek bring vandag my bekommernisse na U. Dankie dat U reeds daar is voordat alles uitgesorteer is. Leer my om ook in onsekerheid op U te vertrou. Amen.
 
Geseënde week.
André

 

Vorige Briewe 

 

Ysterklippe en veldblomme.
Dankie Here vir al U seën. Suiwer my ysterklip-lewe deur U Gees wat in en deur my werk. Laat my blom in hierdie klip-wêreld. Raak ander aan deur die vrug van U Gees. More ...
Wysheid oor die grysheid.
Gebed… Here, ek is een van die mense wat oud genoem word. Ek lewe in die aand. Nie lank nie, dan is dit nag. Laat my in my laaste treë nie alleen nie. More ...
WYSE BESLUITE en WARE LIEFDE…
Ons moet tot God bid om wysheid, sodat ons elke dag besluite kan neem waardeur God verheerlik sal word. Ons moet tot God gerig wees, sodat ons weë en handelinge getuig van Sy ware Liefde. More ...
Woorde wat bly
Dit laat my dink aan woorde wat ons uit ons eie lewens onthou. Woorde wat anders mense tot, of oor ons gespreek het. Iemand wat in ons geglo het. Soms onthou ons sulke woorde 'n leeftyd lank. More ...
Wonderwerke
Dit is besonder kosbaar. More ...
Winde van verandering.
"Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie." More ...
Wie is my naaste?
Geniet die avontuur om God se wil te doen. More ...
Wie is jy?
Ons is kinders van God. More ...
Wie is jy?
Jou lewensreis loop hand aan hand met die vraag...... More ...
Wie is die Here?
God openbaar Hom elke dag aan jou. Die vraag is: soek jy en luister jy…? More ...