Hoop en identiteit
Teks: 1 Petrus 1:13-21
Petrus – die dissipel wat Jesus eers verloën het en later met nuwe moed opgestaan het – kan met reg die dissipel van hoop genoem word. Juis hy skryf aan gelowiges wat moedeloos, verdruk en onseker leef, om hulle oë te rig op ’n hoop wat nie wankel nie. Hy roep hulle op om hulle hoop volkome te vestig op die genade wat in Jesus Christus openbaar word (1 Petrus 1). Hoop is vir Petrus nie ’n vae gevoel nie, maar iets wat sy oorsprong en inhoud in Christus self het.
Die kern van hierdie hoop lê buite ons self. Petrus herinner ons dat God, Jesus uit die dood opgewek het, en aan Hom heerlikheid gegee het, sodat ons geloof én hoop op God gerig kan wees. Jesus gee nie net hoop nie – Hy is die fondament van hoop. In Hom kry hoop ’n vaste identiteit: geanker in God se handelinge in die verlede, en vasgemaak aan Sy beloftes vir die toekoms. Daarom is Christelike hoop nie afhanklik van omstandighede nie, maar van Wie God is.
Maar hierdie hoop vorm ook ons lewens van binne af. Petrus wys dat ’n lewe van hoop sigbaar word in hoe ons leef: as gehoorsame kinders, geheilig in ons denke en optrede, en eerbiedig voor God in ’n wêreld waar ons vreemdelinge is. Ons identiteit word gevorm deur die hoop waarin en waarmee ons leef. Omdat ons weet aan Wie ons behoort, kan ons anders kyk na die lewe, na siekte, verlies, onsekerheid en vrees.
Ons leef vandag, net soos die eerste gelowiges, tussen wat God reeds gedoen het en wat Hy nog sal doen. En juis daarom kan ons leef met hoop – ’n hoop wat ons identiteit vasmaak in Christus, en ons leer om elke dag met moed en vertroue vorentoe te gaan.
(gedeeltelike erkenning aan Dr Christo van der Merwe)
Gebed:
Here Jesus Christus,
U is ons vaste hoop en ons ware identiteit. Vorm ons lewens sodat ons, selfs in onseker tye, met vertroue, heiligheid en hoop in U kan leef. Amen.
Andrè
| Ysterklippe en veldblomme. | | Dankie Here vir al U seën. Suiwer my ysterklip-lewe deur U Gees wat in en deur my werk. Laat my blom in hierdie klip-wêreld. Raak ander aan deur die vrug van U Gees.
More ...
|
|
| Wysheid oor die grysheid. | | Gebed…
Here, ek is een van die mense wat oud genoem word.
Ek lewe in die aand. Nie lank nie, dan is dit nag.
Laat my in my laaste treë nie alleen nie.
More ...
|
|
| WYSE BESLUITE en WARE LIEFDE… | | Ons moet tot God bid om wysheid, sodat ons elke dag besluite kan neem waardeur God verheerlik sal word. Ons moet tot God gerig wees, sodat ons weë en handelinge getuig van Sy ware Liefde.
More ...
|
|
| Woorde wat bly | | Dit laat my dink aan woorde wat ons uit ons eie lewens onthou. Woorde wat anders mense tot, of oor ons gespreek het. Iemand wat in ons geglo het. Soms onthou ons sulke woorde 'n leeftyd lank.
More ...
|
|
| Winde van verandering. | | "Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie."
More ...
|
|
| |
|