Gebed met die hande onder die kraan
Ek hoop dit gaan sommer goed en gesond by julle. Ek en Tanya is nog besig om die balans te vind tussen werk, huis-skool, gesond wees en speel sonder om te veel te bekommer.
Elkeen van ons is verstom oor die tyd waarin ons is. Genadiglik is God se Hand van Lewe na ons elkeen gerig. Kom ons bid vanoggend saam tot ons Here.
Die water spoel oor my hande
maar die woorde steek vas in my keel.
Hoe bid ‘n mens in hierdie tyd?
Ons het nog nooit so iets beleef nie.
Heer, wees ons genadig.
Ek voel die seep tussen my vingers,
vryf my hande bo, onder, allekante.
Skoonwas.
Dis mos u metafoor, Here.
Maar hoe moet ons dit verstaan in so ‘n tyd?
Wat kan ek bid met my hande onder die kraan?
Ek dink aan die kwesbares,
en wonder of ek een is.
Heer, wees ons genadig.
U roep ons om te volg.
U stel die voorbeeld van deernis en diens.
Maar hoe gee ons op ‘n afstand om?
Of lê die omgee juis in afsydig bly?
Is hierdie ritueel van water en seep
ons nuwe sakrament?
Heer, wees ons genadig.
Om ons tuimel die markte.
Besighede ly skipbreuk
en soos drenkelinge spoel mense uit
op strande van wanhoop.
So iets het ons nog nooit beleef nie.
Ek was my hande in gebed:
Heer, wees ons genadig.
Neels Jackson
Kontak gerus vir my, of Ena indien ons jou kan bystaan in hierdie uitdagende tyd. Baie seën en sterkte.
andre@sagemeente.com of 078 4102 9307
Kontak die kerkkantoor by
noordwyk@sagemeente.com of ena@sagemeente.com
Vorige Briewe
| Ons hulp deur die eeue | | Die lewe verander. Jare gaan verby, geslagte kom en gaan, en soms wonder ons waarheen die tyd verdwyn het. Tyd staan vir niemand stil nie. Maar die God wat deur al die geslagte ons toevlug was, is vandag steeds dieselfde.
More ...
| |
|
| Wanneer die vyeboom nie bot nie | | Daar sal dae wees waarop dit ’n keuse van geloof word. Miskien is dit die diepste vorm van dankbaarheid: wanneer my hande nie vol voel nie, maar ek steeds kan sê: Here, U is hier. En U is nog steeds my God.
More ...
| |
|
| |
|