Skedule-geloof?


 Hoeveel keer probeer ons ‘n kuier met vriende en familie reël waar ons eers maande later ‘n ‘oop datum’ kry? Die redes vir ons ‘besig-wees’ wissel en strek van werk en travel tot sport en kinders se ‘verpligtinge. Ons daaglikse, weeklikse en maandelikse programme is deesdae propvol. Dit maak ons meeste van die tyd ongeduldig.

Die Here se "tydskedules" lyk nooit soos ons programme nie. Ons is selfs soms ongeduldig met God as dinge nie vorder soos ons beplan het nie. En tog was die Here nog nooit laat nie.
Die Prediker sê in hoofstuk 3: “Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd… God het elke ding gemaak dat dit pas in 'n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens 'n besef gegee van die onbepaalde tyd. Tog kan die mens die werk van God van begin tot einde nie begryp nie.”
 
Ons moet die deurleefde wyse waarop God jou na Hom toe lei aanvaar. Daar bestaan eenvoudig nie iets soos "tien maklike stappe tot geloofsvolwassenheid" nie. Daarom gebruik die Here die lewe om jou voor te berei op die ewige heerlikheid wat op jou wag.

Dit is nie atyd ‘n (ge-)maklik pad nie. Dit kan selfs ’n moeisame weg wees wat dalk meer dikwels op die randjie van twyfel en ongeloof langs kan loop as wat dit egalig voortsnel na ons eindbestemming toe. Maar dié wat volhard, is begenadig en sal die volheid van geloof smaak.
 
As ons weer en weer oor ’n aangeleentheid na aan ons hart bid, moet ons besef die Here hoor en het ook daarmee sy tyd. Dis opstandig om dan te sê die Here luister nie. Dit is nie so nie. Wanneer Habakuk ongeduldig raak met die Here, sê die Here vir Habakuk: Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie (Hab 2: 3).

                                                                           (gedeeltelike erkenning aan Ds Buddie Dupper)
Seënwense,
Andrè

Vorige Briewe 

We Will Remember Them – Alles in Herinnering | Armistice Day
Here, ons onthou vandag met dankbaarheid en hartseer. Troos dié wat verlies dra. Leer ons om vrede te soek, menswaardigheid te beskerm en met liefde teenoor mekaar te leef. Amen. More ...
Ons hulp deur die eeue
Die lewe verander. Jare gaan verby, geslagte kom en gaan, en soms wonder ons waarheen die tyd verdwyn het. Tyd staan vir niemand stil nie. Maar die God wat deur al die geslagte ons toevlug was, is vandag steeds dieselfde. More ...
Wanneer die vyeboom nie bot nie
Daar sal dae wees waarop dit ’n keuse van geloof word. Miskien is dit die diepste vorm van dankbaarheid: wanneer my hande nie vol voel nie, maar ek steeds kan sê: Here, U is hier. En U is nog steeds my God. More ...
Wanneer laas was ek dankbaar vir God se woord
God het Homself nie verborge gehou, of weggesteek nie. Ons hoef nie te raai wie Hy is of hoe Hy met mense omgaan nie. Ons kan lees, luister, oordink, vra, ontdek en Hom leer ken. More ...