Kits-geloof?
Ons leef in ’n tyd waar almal na kitsoplossings soek. Kitskos, kitssportbyeenkomste, kortpaaie. Ongelukkig werk nie alles met kitsresepte nie. Een gesprek gaan nie noodwendig my huweliksprobleem van 15 jaar oplos nie. Een dag seminaar kan nie werklik my tekortkominge laat verdwyn en my volkome maak nie. Een goeie daad by die huis of die werk, vervang nie alles wat voorheen afgespeel het nie.
Die realiteit is dat min dinge met werklike waarde oornag ontwikkel. Daar is geen kortpad na rypheid nie. Dit neem ‘n boom jare om sy eerste vrugte te dra. Dit neem ‘n volle seisoen vir ‘n boom om sappige vrugte te gee. Dit neem ‘n leeftyd vir dieselfde boom om ‘n baken van herinneringe te word. Daar is geen kortpad na volwassenheid nie. Geen mens word volwasse gebore nie. Dit neem ’n hele klomp jare om volwassenheid te bereik.
So is dit ook met geloof. Daar is nie kortpaaie na ‘n lewende verhouding met God nie. Filippense 1: 6 verduidelik: Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom. (Kyk ook Ef 4: 13.) Dus geloofsvolwassenheid neem tyd, oorgawe en deelname om ewigdurende waarde te dra.
Miskien is jy nog nie by die bestemming waar jy wou wees nie. Tog is jy nie waar jy was nie. God is nog lank nie klaar met jou op die pad wat na jou heil lei nie. Hou moed en hou vas aan Sy Vaderhand!
(gedeeltelike erkenning aan Ds Buddie Dupper)
Seënwense,
Andrè
Vorige Briewe
| Ons hulp deur die eeue | | Die lewe verander. Jare gaan verby, geslagte kom en gaan, en soms wonder ons waarheen die tyd verdwyn het. Tyd staan vir niemand stil nie. Maar die God wat deur al die geslagte ons toevlug was, is vandag steeds dieselfde.
More ...
| |
|
| Wanneer die vyeboom nie bot nie | | Daar sal dae wees waarop dit ’n keuse van geloof word. Miskien is dit die diepste vorm van dankbaarheid: wanneer my hande nie vol voel nie, maar ek steeds kan sê: Here, U is hier. En U is nog steeds my God.
More ...
| |
|
| |
|