Vroue van God
Vrouedag kan so maklik tot 'n enkele, kort, vlugtige en minderwaardige gebeurtenis afgeskaal word. Op verskeie plekke in Sy Woord beklemtoon God hoe belangrik 'n vrou en moeder is.
In Jesaja 66: 13, sê God deur die woorde van die profeet: "Soos 'n moeder haar kind laat veilig voel, so laat Ek julle veilig voel." Kom ons herdenk die vroue in ons geledere voortdurend en gereeld, veral in gebed.
God my Moeder, U beskerm U kinders soos 'n hen haar kuikens.
U ken die harte van almal – ook dié van die vrou.
Daarom kom ek na U, want ek bloei vir die vroue van my land.
Ek krimp ineen oor die statistiek wat ek in die koerante lees:
Ons liggame word verneder en ons menswees geminag.
Ons kinders word misbruik.
Baie van ons worstel om 'n bestaan te maak in 'n manswêreld.
Ons voel weerloos en uitgelewer.
U het gesê dat, soos 'n vrou wat nooit die kinders
wat sy in die wêreld gebring het, vergeet nie,
so vergeet U ons nie.
U het ons name op U handpalms gegraveer.
Daarom dra ek vanmôre aan U liefdevolle versorging op:
elke vrou en elke jong dogter
wat verkragting of seksuele misbruik moet verwerk;
elke vrou wat verbale en fisieke geweld verduur;
elke vrou wat weet dat die MI-virus in haar liggaam skuil;
elke enkelvrou wat haar kinders alleen moet grootmaak;
elke moeder wat haar huis in die donker oggedure
moet verlaat om te gaan werk
en wat bekommerd is oor die veiligheid van haar kinders;
elke bekwame vrou wat in die werkplek
oor die hoof gesien word omdat sy vrou is;
elke eensame ouma wie se kinders haar vergeet het.
Baie dankie dat ons vroue na U kan kom met ons eiesoortige probleme,
Omdat ons weet dat U lyding geken het
En ons kan help om die onreg om te keer.
Leer ons om trots te wees op ons liggame
Omdat ons liggame ons menswees is.
Leer ons in U vroulike wysheid
Om as vroue op te staan vir wat ons toekom, en om soms "nee" te sê.
Help ons om na mekaar uit te reik en mekaar te ondersteun.
God, U weet dat ons behoefte is om in vennootskap met alle mans saam te leef.
Bevry die vroue en die mans van hierdie land
om dit te kan doen, want ons is almal na U beeld geskape.
[Uit: Die Groot Gebedeboek, Lux Verbi.BM: Gebed vir Vrouedag deur Frances
Klopper]
Seën wense,
Andrè
Vorige Briewe
| Ons hulp deur die eeue | | Die lewe verander. Jare gaan verby, geslagte kom en gaan, en soms wonder ons waarheen die tyd verdwyn het. Tyd staan vir niemand stil nie. Maar die God wat deur al die geslagte ons toevlug was, is vandag steeds dieselfde.
More ...
| |
|
| Wanneer die vyeboom nie bot nie | | Daar sal dae wees waarop dit ’n keuse van geloof word. Miskien is dit die diepste vorm van dankbaarheid: wanneer my hande nie vol voel nie, maar ek steeds kan sê: Here, U is hier. En U is nog steeds my God.
More ...
| |
|
| |
|