Familie


Die lewe flits by ons verby. Dit voel soos nou die dag toe ons oudste ons lewens kom opkikker het, en nou is dit al amper 7 jaar later. Ons poog om ons kinders van kleins af te leer om verantwoordelik te wees, maar hoe ouer hulle word, hoe meer groei my liefde en kommer oor die onvoorsiene. Gebeure, soos die tragiese dood van 18-jarige Dian Terblanche van Reitz wat hierdie week aan sy brandwonde gesterf het nadat hy op hulle plaas deur ‘n veldbrand oorval is, intensifiseer die vraag binne elke gelowige ouer – wat is die belangrikste sake wat ek my kinders moet leer…?
 
Die Prediker leer ons baie oor die boodskap(pe) aan ons kinders. Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen (Prediker 9:10) wil ons en ons kinders leer om elke taak, hoe klein ookal, met entoesiasme en werkywer aan te pak. Prediker 11: 1 sê Gooi jou brood op die water, want na 'n lang tyd kry jy dit terug – wat ons aanmoedig om vrygewig te wees met jou geld, met jou goed en met jou tyd. Ongeag hoe lank jy lewe, geniet elke oomblik daarvan (Prediker 11: 8), want God wil hê dat ons die lewe as 'n gawe van Hom moet geniet. Aan die einde van sy lewe kom die Prediker tot 'n belangrike gevolgtrekking oor die heel belangrikste boodskap aan kinders: Wees eerbiedig teenoor God en gehoorsaam sy gebooie (Prediker 12:13).  
 
Ons lewe in ‘n wêreld waar sukses en impak gekoppel word aan materiële sake. God se Woord sê: Jou lewe sal 'n impak hê, as jy alles wat jou hand vind om te doen, met toewyding doen. Dit beteken – ons kinders moet blom daar waar julle geplant is. Wees goed vir ander mense. Vind vreugde in jou werk. Vind veral vreugde in klein dingetjies. Lag baie en lag ook sommer vir jouself. Dien God met oorgawe daar waar jy is.
 
Lindie Strydom som dit soos volg op: "Dien, doen en geniet – dit is wat jy die wêreld kan bied."
                                                                         (met gedeeltelike erkenning aan Helena Smith)
 

Vorige Briewe 

Die prys van woorde
God het nie net gepraat oor onvoorwaardelike liefde, vergifnis en verlossing van die wêreld nie, Hy het dit tot uitdrukking laat kom deur Sy Seun Jesus Christus. Laat toe dat Hy gehoor word in elkeen van jou woorde. More ...
Die Woord as Waarheid
Volgens Calvyn gee die Skrif ons 'n reddende kennis van God, maar slegs wanneer die sekerheid daarvan "gegrond is op die innerlike oortuiging van die Heilige Gees." More ...
Jesus se Woorde
Jesus se eerste woorde van Sy opstanding was net buite die leë graf. Ons lees daarvan in Johannes 20 waar Maria Magdalena na Hom gaan soek het. Sy was in trane, omdat Sy Hom nie kon kry nie, toe Jesus met haar praat. More ...
Die kleur van vergifnis
God is die bron van die volkome Lig wat ons lewe rig. Ons lewens-waarde lê in Hom wat deur ons skyn na die wêreld. Die wêreld word gevul met ‘n reënboog van kleure omdat God se verlossende Lig elkeen op ‘n unieke manier bereik en bevry. More ...