'N WYSE MAN ONTHOU



Ek onthou toe ek Ashar se brief ontvang het asof dit gister was – die brief waarin hy my van sy bevindings vertel het. Ek kon uit die toon van sy brief agterkom dat hy baie opgewonde was. Ek het tot presies dieselfde gevolgtrekking gekom met my eie sterrekykery – so, ek was sélf opgewonde. Dit was eintlik snaaks, ons sterrekykende ou manne het almal min of meer dieselfde tyd die ster gesien en het almal briewe aan mekaar gestuur. Die dag nadat ek Ashar se brief ontvang het, het ek nog ‘n hele klompie ander briewe gekry waarin dieselfde inligting en opgewondenheid gedeel is!

Ons het dadelik die koning ingelig en hom vertel dat die sterre gepraat het. Toe hy ons vra wat die sterre dan nou gesê het, het ons geantwoord:

 “U hoogheid, ons het ‘n ster gesien. Hierdie ster dui op ‘n gebeurtenis van kosmiese belang. Natuurlik het ons die verskillende interpretasies bespreek en tot die slotsom gekom dat hierdie die ster van ‘n groot koning vir die Joodse volk is. Ons vra u toestemming om wes te reis sodat ons hierdie koning kan gaan verwelkom”.

‘n Maand later het ons groep ou sterrekykers toe op ons lang reis weswaarts vertrek. Nou, jare na ons groot reis, word ons wyse manne genoem. Ha! Wel, ek kan jou sê dis nie wat hulle ons destyds genoem het nie. “Gekke!” “Spul mal ou manne!” Selfs my vrou het gedink my varkies het uit die hok uit ontsnap. “Jy’s ‘n ou man met artritis, ‘n swak hart en jy’s half doof!” het sy op my geskreeu terwyl ek gesukkel het om op my kameel te kom – so met ‘n bietjie hulp.

 “Aaa,” het ek haar geantwoord, “ Maar my oë is nog goed, vroumens. En as jy gesien het wat ek gesien het, sal jy my nie probeer keer nie!”

“Maar,” het sy nog gepleit, “ Wat van jou swak hart?”

“My hart? My liewe vrou, my hartklop gaan waarskynlik binnekort stop, dis waar, maar moet my hart tog nie die kans ontneem om nog een keer soos die hart van ‘n vreeslose jongman te klop nie. Wanneer my oë die nuwe koning gesien het, dan sal my hart heel tevrede wees om tot rus te kom.”

Sy het net gesug, eenkant toe gestaan en vir my gewaai.

Nou is ek ‘n ou man en my stem nie meer so sterk nie. Ek het nie genoeg asem om lank te praat nie, so ek sal julle nou nie met die detail van ons reis verveel nie. Dis seker nie nodig om te sê dat die woestyn intens en uitmergelend was nie, soos ons almal maar weet. Maar die ster, dáárdie ster, het ons nooit in die steek gelaat nie. Sy’t nooit verflou nie en nie een keer ‘n bespotting van ons jeugdige entoesiasme gemaak nie. Ons het haar as die volmaakte reisgenoot ervaar.

Maar die ster was bloot ons gids, nie die doelwit nie en na baie maande, soos ons nader aan Betlehem gekom het, het ons van die ster af weggekyk en die horison vir ‘n paleis begin fynkam. Maar, weer ‘n keer, het ons die ster se hulp nodig gehad om die paleis te sien – ‘n paleis wat maar soos ‘n doodgewone Betlehemse huis gelyk het.

En daar, in daardie huis het ons oë die jong koning gesien. Ons harte was vol en het jonk gevoel. Ons het geskenke aangebied en die jonge Jesus verheerlik, alhoewel ons op daardie stadium nie die volle impak van sy geboorte besef het en ook nie toe kón besef het nie.
(vertaal deur Andre Fourie)

Geseënde Advent,
Andrè

 

 

Vorige Briewe 

Wysheid oor die grysheid.
Gebed… Here, ek is een van die mense wat oud genoem word. Ek lewe in die aand. Nie lank nie, dan is dit nag. Laat my in my laaste treë nie alleen nie. More ...
WYSE BESLUITE en WARE LIEFDE…
Ons moet tot God bid om wysheid, sodat ons elke dag besluite kan neem waardeur God verheerlik sal word. Ons moet tot God gerig wees, sodat ons weë en handelinge getuig van Sy ware Liefde. More ...
Wonderwerke
Dit is besonder kosbaar. More ...
Winde van verandering.
"Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie." More ...
Wie is my naaste?
Geniet die avontuur om God se wil te doen. More ...
Wie is jy?
Ons is kinders van God. More ...
Wie is jy?
Jou lewensreis loop hand aan hand met die vraag...... More ...
Wie is die Here?
God openbaar Hom elke dag aan jou. Die vraag is: soek jy en luister jy…? More ...
Wie is die Here van my lewe?
Alles is in Hom, deur Hom en tot Hom. More ...
Wie het die Bybel geskryf: God of mense?
Om God se wil te openbaar en die evangelie van hoop te bring. More ...