Vroue van God

 

Vrouedag kan so maklik tot 'n enkele, kort, vlugtige en minderwaardige gebeurtenis afgeskaal word. Op verskeie plekke in Sy Woord beklemtoon God hoe belangrik 'n vrou en moeder is. 
 

In Jesaja 66: 13, sê God deur die woorde van die profeet: "Soos 'n moeder haar kind laat veilig voel, so laat Ek julle veilig voel."  Kom ons herdenk die vroue in ons geledere voortdurend en gereeld, veral in gebed.

 

God my Moeder, U beskerm U kinders soos 'n hen haar kuikens.

U ken die harte van almal – ook dié van die vrou.

Daarom kom ek na U, want ek bloei vir die vroue van my land.

Ek krimp ineen oor die statistiek wat ek in die koerante lees:

Ons liggame word verneder en ons menswees geminag.

Ons kinders word misbruik.

Baie van ons worstel om 'n bestaan te maak in 'n manswêreld.

Ons voel weerloos en uitgelewer.

U het gesê dat, soos 'n vrou wat nooit die kinders

wat sy in die wêreld gebring het, vergeet nie,

so vergeet U ons nie.

U het ons name op U handpalms gegraveer.

Daarom dra ek vanmôre aan U liefdevolle versorging op:

elke vrou en elke jong dogter

wat verkragting of seksuele misbruik moet verwerk;

elke vrou wat verbale en fisieke geweld verduur;

elke vrou wat weet dat die MI-virus in haar liggaam skuil;

elke enkelvrou wat haar kinders alleen moet grootmaak;

elke moeder wat haar huis in die donker oggedure

moet verlaat om te gaan werk

en wat bekommerd is oor die veiligheid van haar kinders;

elke bekwame vrou wat in die werkplek

oor die hoof gesien word omdat sy vrou is;

elke eensame ouma wie se kinders haar vergeet het.

Baie dankie dat ons vroue na U kan kom met ons eiesoortige probleme,

Omdat ons weet dat U lyding geken het

En ons kan help om die onreg om te keer.

Leer ons om trots te wees op ons liggame

Omdat ons liggame ons menswees is.

Leer ons in U vroulike wysheid

Om as vroue op te staan vir wat ons toekom, en om soms "nee" te sê.

Help ons om na mekaar uit te reik en mekaar te ondersteun.

God, U weet dat ons behoefte is om in vennootskap met alle mans saam te leef.

Bevry die vroue en die mans van hierdie land

om dit te kan doen, want ons is almal na U beeld geskape.

 

[Uit: Die Groot Gebedeboek, Lux Verbi.BM: Gebed vir Vrouedag deur Frances

Klopper]

 

Seën wense,

Andrè

 

 

 

Vorige Briewe 

Die Woord as Waarheid
Volgens Calvyn gee die Skrif ons 'n reddende kennis van God, maar slegs wanneer die sekerheid daarvan "gegrond is op die innerlike oortuiging van die Heilige Gees." More ...
Jesus se Woorde
Jesus se eerste woorde van Sy opstanding was net buite die leë graf. Ons lees daarvan in Johannes 20 waar Maria Magdalena na Hom gaan soek het. Sy was in trane, omdat Sy Hom nie kon kry nie, toe Jesus met haar praat. More ...
Die kleur van vergifnis
God is die bron van die volkome Lig wat ons lewe rig. Ons lewens-waarde lê in Hom wat deur ons skyn na die wêreld. Die wêreld word gevul met ‘n reënboog van kleure omdat God se verlossende Lig elkeen op ‘n unieke manier bereik en bevry. More ...
Die kleur van sonde
Hemelse Vader, help my om verby my sonde en foute te kyk, om U goedheid en liefde vir my raak te sien. Wanneer dit moeilik is, O Heilige Gees, help ons om mekaar by te staan. Dankie vir die kleur van U liefde, wat duidelikste skyn in my nietigheid. Amen. More ...