Wat gebeur in ons wêreld?

 


Vanoggend het ons wakker geword na ‘n dag waar die stemme van Brittanje weereens onvoorspelbaar uitgedraai het – nou het ons ‘n ‘hung parliament’ – en wonder ons wat die toekoms inhou.  Die brande tussen Knysna en Plettenbergbaai het mense se lewens geeïs en ongerekende skade aangebring. Die storm in die Kaap het gewoed en verwoesting gesaai en ook verskeie lewens geeïs.  Verlede Saterdag het ekstreme individue mense op London Bridge vermoor en het die euwel terrorisme weereens, soos verskeie ander kere hierdie jaar, ‘n merk van angs, hartseer en bekommernis gelaat.  Verlede jaar is ‘n ma en haar 4 jarige stom-outistiese seuntjie dood gevind op hulle huis se vloer – sy is dood agv ‘n epileptiese aanval en hy het in die daarop volgende twee weke in haar arms gesterf van die honger.  

Wat is besig om te gebeur in ons wêreld?  Watter inpak gaan dit op ons toekoms hê? Hoe moet ons hieroor dink?  En watter rol speel God hierin?

Ons bely God se almag, wil en genade.  Ons glo in Jesus se redding en vrymaking.  Ons vertrou in die Heilige Gees se bystand, troos en versterking.  Die boustene van Johannes 17:14-15 sê:  Christene is in hierdie wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie.  As gelowige Christene is ons hoop en sekerheid nie in die dinge en sake van die wêreld nie, maar in God.  God is ons toekoms.  Dit is ook wat Joshua bely in Joshua 24:15: Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.  

In die aangesig van onsekerheid, probleme, rampe, hartseer en selfs die dood kan ons en moet ons na God draai. Hy is ons hoop.  Hy is ons versekering.  Hy is versorger, versterker en vertrooster.  As ons in Hom glo en aan Hom vashou – Sy woord dag en nag oordink en na Sy wil soek – sal ons weet:  God is ons toekoms!


Seëngroete,
Andrè.

 

 

 


 

Vorige Briewe 

Die Woord as Waarheid
Volgens Calvyn gee die Skrif ons 'n reddende kennis van God, maar slegs wanneer die sekerheid daarvan "gegrond is op die innerlike oortuiging van die Heilige Gees." More ...
Jesus se Woorde
Jesus se eerste woorde van Sy opstanding was net buite die leë graf. Ons lees daarvan in Johannes 20 waar Maria Magdalena na Hom gaan soek het. Sy was in trane, omdat Sy Hom nie kon kry nie, toe Jesus met haar praat. More ...
Die kleur van vergifnis
God is die bron van die volkome Lig wat ons lewe rig. Ons lewens-waarde lê in Hom wat deur ons skyn na die wêreld. Die wêreld word gevul met ‘n reënboog van kleure omdat God se verlossende Lig elkeen op ‘n unieke manier bereik en bevry. More ...
Die kleur van sonde
Hemelse Vader, help my om verby my sonde en foute te kyk, om U goedheid en liefde vir my raak te sien. Wanneer dit moeilik is, O Heilige Gees, help ons om mekaar by te staan. Dankie vir die kleur van U liefde, wat duidelikste skyn in my nietigheid. Amen. More ...